Description
Memoires van ‘n soldaat
Voorwoord deur Dana Snyman
Soveel van ons het té lank stilgebly oor ons ervarings in die weermag – die “army”, soos ons dit steeds noem. Ek praat van ons van wie verwag is om verpligte militêre diensplig te doen – die lot van ’n paar honderdduisend weerbare jong mans tussen 1967 en 1994. Die land en die wêreld was tóé anders as nóú. Die Koue Oorlog was nog aan die gang en daar was Kubaanse soldate in Angola. Die Kommuniste wil die wêreld oorneem is ons gemaak glo. Daarom was die sogenaamde Grensoorlog aan die gang. Hoe vergesog dit ook al mag klink, maar vir baie van ons is daardie oorlog steeds aan die gang. In ons koppe.
Daarvan getuig hierdie nodige boek.
Ek was g’n dapper soldaat nie en ek was nooit op Die Grens nie, maar byna 40 jaar het verbygegaan voor ek die moed gehad het om my army-storie te skryf. Die boek, Seun, het verlede jaar verskyn. In die army was ek een van die “malletjies”, sien. Die skreeuende, vloekende korporaals was te veel vir my. Ek het daarteen in opstand gekom en is na die berugte Saal 22 – dit het later Saal 24 geword – in die ou 1 Militêre Hospitaal op Voortrekkerhoogte gestuur. Die psigiatriese saal. Daar is ek tot skisofreen verklaar en uit die army ontslaan.
Saam met my in die ou 1 Mil was ware soldate wat verskriklike dinge op Die Grens gesien het, dinge wat hulle psigies laat meegee het. Of in army-taal: Hulle was “bossies”. Ek het party van hulle snags uit hul drome na liewe Jesus en hulle ma’s hoor roep. In Saal 22 was ook heelwat gay-soldate en ander, in army-taal, “sensitiewe seuns”, wat ook uit die army ontslaan is.
Ek wil nie aanmatigend klink nie, maar ek hoop my storie gee ander mislukte soldate ook die moed om hul storie te vertel. Nie net hulle nie. Elke soldaat in wie se kop die oorlog nog by tye weer woed behoort sy storie te vertel, al is dit net vir homself, of vir sy gesin of familie, of vriende. Skryf is terapeuties. Ek het dit aan my eie lyf gevoel. Die dag toe ek die eerste Seun-boek in my hand gehou het het ek weer deur Voortrekkerhoogte gaan ry, en eers tóé het die trane gekom.
’n Mens kan Anné Pretorius net bedank vir hierdie boek.
Nog net dit: Ons is army toe gestuur “om ’n man” te gaan word. ’n Man huil nie. ’n Man moet ’n bars kan kyk. Daardie geloof hoort in die verlede. Bevry jouself daarvan en vertel jou storie so eerlik as wat jy kan. Dis genesend.
Boodskap vir die oudsoldaat wat hierdie joernaal voltooi:
Die moeite werd
Iewers het ons verleer om ons stories met ons familie en vriende te deel. Dalk is dit omdat ons geneig is om oor ander goed te gesels wanneer ons bymekaar is, of omdat ons mekaar so min sien. Dalk gaan ons eerder na ’n opvoering kyk as om oor onsself te praat. Wat die deel van oudsoldate (hetsy uit diensplig, die weermag of sekuritietsmag) se stories betref, is die rede inderwaarheid heelwat meer kompleks. Wat ook al jou rede, stories raak mettertyd verlore, en veral oorlogstories. Soveel so dat kinders ná die heengaan van hul grootouers en ouers oor hulle begin wonder en dan besef dis helaas te laat. So dit mag dalk intimiderend voel om jou verhaal neer te pen, maar glo my, dit het groot waarde en sal die moeite werd wees. Elke storie is anders – hierdie boek wil jou en jou dierbares help om jul besonderse verhaal te skryf.
Inspirasieprikkels
Omdat dit veral moeilik is om jou gedagtes net eers “los” te kry, is daar ‘n aparte boekie met inspirasieprikkels (prompts) voor in die koevert geplaas. Die idee hiermee is om jou te “prikkel” om jou eie stories as’t ware te herontdek sodat jy jou lewensverhaal en wedervaringe op die oop bladsye wat daarop volg te kan skryf sonder dat daar spesifieke vrae gedruk is wat jou forseer om daarop te antwoord. Jy hoef dit natuurlik glad nie te gebruik nie, of net nou en dan wanneer jy inspirasie kort. Hierdie prikkels is juis in ‘n aparte boekie gedruk met die spesifieke doel om uitgehaal te word voordat jy die boek vir jou eggenoot, kind of oudmakker gee.
Jou stem
Oorweeg gerus om ’n stemboodskap of selfs ’n video op ’n geheuestokkie (USB) te berg en dit ook in die koevert te sit. Hier kan jy natuurlik baie kreatief raak en dalk ’n gedig voorlees of iets sing, of net ’n eenvoudige mooi boodskap opneem. Ek luister self nog dikwels na my eie ma se WhatsApp stemboodskappe, en juis daarom besef ek die groot waarde daarvan.
Ondersteuning
Dit is belangrik om te besef dat, alhoewel dit nodig is om ons stories te vertel, hierdie projek moontlik ou wonde gaan oopkrap en jou broos kan laat voel. Daarom is dit krities dat jy iemand identifiseer (‘n berader/sielkundige/vriend) met wie jy hieroor kan gesels en jou kan help wanneer dit jou begin kou.
Organisasies waar hulp gekry kan word:
Elèhos bediening (Dr Roelf Schoeman) www.elehos.co.za
Ronel Nel (Traumaberader) ronel888@gmail.com
Suid Afrikaanse Weermag Vereeniging www.sawv.co.za
Projek Gompou www.facebook.com/SAWV.SADFA.GOMPOU/
Raad vir Militêre Veterane Organisasies www.cmvo.org.za
War in Angola www.warinangola.com
Moeilike boodskappe
Skaf gerus vir jou ’n pen met onsigbare ink aan (daar is ’n skakel op ons webtuiste). So kan jy vertroulike inligting wat jy moontlik braaf genoeg voel om te skryf, tog so ’n bietjie “versluier”. Jou naasbestaandes kan dit dan met ’n ultraviolet liggie (swart lig) lees.
‘n Gesprek
Dink aan die invul van die boek as ’n gesprek met die leser wat nie net nuuskierig is oor jou lewe nie, maar ook daarna verlang om die diepte van jou ervarings te verstaan wat ons nie altyd in alledaagse geselskappe deel nie. Dit is jou geleentheid om ’n brug tussen julle harte te bou. Hier is nou jou kans!
Jou pen
Maak asseblief seker dat jy met ’n goeie kwaliteit, fyn balpuntpen skryf om te verseker dat jou skrif nie smeer nie en nog vir baie jare behoue sal bly.
Kunswerke deur Marié Vermeulen-Breedt
Die oorspronklike kunswerke, sowel as ’n beperkte oplaag afdrukke is te koop. Besoek gerus die webwerf www.memoirebooks.co.za om jou bestelling te plaas.
Kunswerke deur Peter Badcock
Die oorspronklike kunswerke, sowel as ’n beperkte oplaag afdrukke is te koop. Besoek gerus die webwerf www.peterbadcock.com om jou bestelling te plaas.
Kontak ons
Kontak ons asseblief indien jy enige vrae het of met iets sukkel. Besoek gerus gereeld ons webwerf (www.memoirebooks.co.za) vir verdere inspirasie en wenke.
E-pos: info@memoirebooks.co.za
Ons is ook aktief op Facebook en Instagram.
Liefdegroete, Anné
Reviews
There are no reviews yet.